|
|
|
![]()
Nic het in ‘n kring van kreatiewe mense beweeg wat onder andere die liedjieskrywer Jan Pohl, die digter GA Watermeyer, die skrywer As van Straten en taalkenners Jan Spies en Charl Engelbrecht ingesluit het. Daar is in sy voorhuis kopstukke gepraat oor gedigte en skryfwerk. Sy opinie is gewaardeer en gerespekteer deur hierdie mense, maar dit was eers na sy aftrede in 1984, wat hy ‘n kans gekry het om sy eie skeppende stem te laat hoor sonder koppeling met ‘n kommersiële produk. “Die Waterhond” het hy staan-staan geskryf op ‘n meganiese draagbare tikmasjientjie, want sy rug was seer, en hy het nooit werklik vrede gemaak met rekenaars en woordverwerkers nie. Dit is aanvaar vir publikasie met slegs geringe wysigings. Daarna het ander romans en kortverhale gevolg, onder andere “Die binnebouddans” en “Noorman en ander verhale”. Sy vrou Marie het van sy gedigte pragtig getoonset, en ‘n langspeelplaat uitgebring wat “Optelgoed” genoem is.
Na hulle aftrede het hulle aan die Weskus gaan vestig op die plaas Jacobsbaai net buite Saldanha. Vandag staan daar ‘n pragdorpie in egte Weskusstyl, grootliks weens Nic se inisatief. Hy het baklei vir die ontwikkelingsregte, die bouriglyne laat spesifiseer en iets werklik uniek geskep. Toe die las van die eiendomsbedryf vir hom te groot geword het na ‘n hartaanval, het hy die ontwikkeling verkoop. Etlike huise in Jacobsbaai en Saldanha dra die stempel van sy ontwerp en knap houtwerk, altyd met soliede inheemse hout. Geen veneer vir hom nie. Liewer plafonne en deurkosyne van geelhout. ‘n Trotse man, streng met sy familie, maar altyd met ‘n ruim hart en ‘n oop hand vir enigeen wat hulpbehoewend was. Uiters entoesiasties oor sport, veral Rugby, en altyd gereed met raad vir die skeidsregter. Die skielike hartaanval wat sy lewe geneem het, het hom eintlik ‘n kans gegee om met waardigheid te gaan – op die agtergrond was daar onopereerbare kanker wat dit onverbiddelik sou doen. Al was die dood genadig, is daar nogtans baie mense wat hierdie groot gees sal mis. Nic was 77 jaar oud. Hy word oorleef deur Marie, vier dogters en vier kleinkinders. Nanette Tredoux
NASKRIF Hy is oorlede gedurende November 2005 en sy begrafnis is bygewoon deur mense van heinde en ver en lank gelede. Hy is begrawe in nederigheid en met liefde, in 'n eenvoudige dennehoutkis met tou-handvatsels. Hy was 'n man sonder pretensie, en dit was sy wens. Die Weskus is waar hy meer as twintig jaar gelede wou gaan rus, en nou eers rus hy.
|