|
|
|
Vir die volgende 36 jaar was Tannie Lettie deel van die ritme van ons lewens. My ouers was huisvriende van haar en haar man en ek was diep betower deur Tannie Lettie se gebakte mosbolletjies en boerebeskuit. Daar was gereeld 'n tuisgebakte broodjie van Tannie Lettie af in ons broodblik en die korsies was altyd myne. Dik gesny en geel van die botter, hemelskos. Na oom Stoffel se dood het haar kuiertjies by ons huis geleidelik meer geword, veral toe haar kinders grootgeword en die nes verlaat het. Een besoek veral onthou ek soos gister. Tannie Lettie het heelwat vrugtebome in haar tuin gehad en sy was baie trots op die gehalte van die vrugte wat sy gekweek het, veral haar pruime en pere. Nou is dit so dat ek toevallig ook baie van pruime en pere gehou het. Die Vrydagaand het ek, my vriendin Madeleen en die twee seuns wat oorkant op die hoek gebly het so 'n bietjie van die pere gaan "pluk". Omdat sommige van hulle nog so effe groen was het die seuns besluit om dit in hulle huis se geute weg te steek sodat dit lekker in die son kon lê om ryp te word. Met die goeie Vader se sin van humor het dit egter daardie nag begin reen. Toe die seuns se pa (ek verswyg hulle name om vir hulle verleentheid te spaar, maar een was later jare 'n bekende speurder op Saldanha) die volgende oggend deur die tuin stap oppad busstop toe, was sy grasperk onverklaarbaar vol groen pere en 'n baie onstoke Tannie Lettie het langs sy muurtjie gewag. Teen die tyd dat sy by ons aangekom het, het die seuns klaar hulle straf gehad en Tannie Lettie het met so 'n stil glimlaggie en vele onderlinge kyke in my rigting die petalje aan my ouers vertel. Sy het natuurlik ook genoem dat sy weet die seuns was nie alleen in haar tuin nie en dat sy wag vir die ander partye om haar omverskoning te vra. Ek het, totaal verskrik, nie 'n woord gesê nie. Daar was daardie week geen mosbolletjies in ons huis nie, maar daarna is geen woord weer daaroor gespreek nie. Jy sien, Tannie Lettie het altyd geweet wat op die dorp aangaan. Sy het belang gestel in alles en almal en haar deur was altyd oop vir 'n koppie tee en 'n geselsie. Haar huisie was 'n rusplek, sitplek en praatplek. Ek het haar 'n week voor haar dood laas gesien toe ek my ouers na haar toe gevat het vir 'n besoekie. Sy was maar soos altyd, vriendelik, besorg oor my ouers se agteruitgang (pappa het Altheimerz) en vinnig om 'n eet en drink dingetjie aan te bied. Haar sitkamer was soos altyd vol kiekies van kinders, kleinkinders en agterkleinkinders en die "welkom by Ouma Let" matjie het voor die voordeur gelê. Sy het getrou aan haar aard eers uitgevra oor my kinders en my man voordat ek geloop het. Nog een van die spesiale karakters van die Weskus het stil geword. |
|